Monday, June 9, 2008

DIE AVONTURE VAN 'N BADKAMERTEEL


Hierdie foto het werklik niks met die artikel te doen nie, dis ek in die middel met die pink das.

Bang vir die water.

Skeinat, ek leer al amper vir 'n maand lank. Wat ek daarmee bedoel is dat ek al vir 'n maand lank amper probeer leer. Die volle waarheid is egter dat ek al vir 'n maand lank in my kamer sit, Bruce Springsteen luister en Deon Meyer lees. Ek is bang vir die water.

So, jy het nou al tot by die tweede paragraaf gekom en jy wonder wat te hel ek bedoel het met die vorige een. Miskien wil jy graag uitvind wat ek bedoel het met die sin: EK IS BANG VIR DIE WATER. Wel, jy's op die regte plek, want vir die volgende paar paragrawe gaan ek nog meer onduidelik maak.
Die lewe is 'n koue swembad. Die een wat jy graag in wil spring. Jy weet dat dit jou net een oomblik van onmenslike pyn en koue gaan veroorsaak. Daarna kan jy die res van die middag in jou droomwereld dryf. Al wat jy moet doen is spring. Spring. Om hemelsnaam, spring.
Ek vergelyk hierdie met die manier waarop ons uitdagings aanpak. 'n Goeie voorbeeld is die uitvra van 'n meisie. Dit gaan een oomblik van absolute onuithoubare vreemdheid kos, maar daarna kan jy milkshake by La Romantica gaan drink. Die teenoorgestelde is ook waar: Jy kan in die swembad inspring en onmiddelik weer uitklim omdat dit gans te koud is. Die verduideliking van hierdie is vanselfsprekend. Ons almal dink eers aan die negatiewe en het al soveel die toneel van mislukking in ons kop afgespeel. Jy kan ook jou kop teen die rand an die swembad stamp, verdrink en eers die volgende week in jou bloedbad gevind word. In die regte lewe is hierdie ook 'n kontempleerbare gevolg. Dit is hoekom ek bang is vir die water.

Die lewe is 'n donnerse koue swembad. En dit voel soms dat ons oor dit moet loop. Die lewe los jou met twee keuses. Jy kan soos al die ander mense buite die swembad staan. Jy kan die lewe sonder passie en uitdaging lewe. Jy kan 'n droe lewe ly en droog doodgaan. Of jy kan kan 'n aanloop vat en spring. Jy kan miskien jou gat sien, maar jy staan 'n kans om die droom te lewe, 'n kans wat jy moet vat.

Spring, om hemelsnaam, spring.

Aan almal wat van nou af maar donners koud gaan kry, I salute you.
Danie