Tuesday, June 17, 2008

Poskaart uit die bloute.-Danie du Toit

Die Hemel.

"Haai aan almal op planeet Aarde."
Ek skryf hier vanaf Die Bloute, die klein realiteit wat ek vir myself geskep het. Dinge gaan deesdae nogal rof. Ek sukkel om in die oggende wakker te word. Ek sukkel om terug in die wêreld in op te staan. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek geniet die wêreld, met al sy ontploffings en skerp ligte, ek vind net makliker rus daar in my kop, daar in Die Bloute. Die Bloute is 'n wonderlike plek. Daar is geen hierargie, Rek-onderwysers of skoolhoofte nie. Daar is geen geloof nie, Daar is niks om voor te veg nie. Net liefde. Dit is 'n wêreld geskep deur mense soos John Lennon en Bob Dylan. Hul woorde vorm die wagwoord. As ek snags uit planeet Aarde wil ontsnap, sit ek my CD-speler aan en maak my oë toe. Voor ek myself kan kry, wandel ek in die groener wyvelde van Die Bloute. Soms is dit Kaapstad, soms is dit Parys, soms is dit 'n berg, soms is dit die vroulike liggaam, soms is dit die woestyn, soms is dit die maan, soms is dit die sonopkoms, ver van enige wiskunde huiswerk en tydsbeplaning. Daar is 'n groot tekort aan konserwatiewe mense. Hulle sukkel om hierdie wêreld te betree weens hul onvermoe om liberaal te dink. Ek het niks teen hierdie vente nie, ek het net nog nie een hier teegekom nie. Ek dink hul dasse en streng geloof hak vas by die ingang. Die sleutel tot hierdie wêreld is 'n bietjie gekkheid.
As jy nou al tot hier gelees het, beteken dit een van twee dinge: 1. Jy het niks anders om met jou tyd te doen nie, of, 2. Jy vind my absolute mors van tyd tot 'n sekere mate, interessant. Daar is natuurlik ook ander redes. Hierdie 'ander redes' is natuurlik totaal irrelevant. Net soos hierdie opstel, paragraaf, sin, woord en punt. As ek nou nog nie jy tyd mors nie, sal ek nooit nie. Dit laat my wel tot die volgende konklusie; Jy is 'n inteligente individu. Jy is, volgens my, iemand wat verder dink, redeneer en blykbaar, ook verder lees. Op hierdie oomblik het jy 'n goeie uitsig oor Die Bloute, daar vanaf jou skerm. Moennie weggaan nie, die son gaan netnou sak, en sy skaduwee oor die blou berge groen maak. Daarna gaan die maan opkom en die nag skep wat jy so pas in jou gedagtes geskep het. Lay lady lay, soos 'n wyse man eens gese het. Hoor jy dit? Indien jou antwoord op hierdie vraag "ja" is, het ek die volgende om aan jou oor te laat: Jou kop raas. Op 'n goeie manier. Die musiek wat jy n jou kop hoor is suiwer romanse. Jy is in die opsig uniek. Sommige mense wil jou opsluit. Hulle wil jou voer met medisyne sodat jy kan bekeer tot hul groepsdier-stilte. Sodat jy jouself ook kan wegsluit van jou hemel. Die Hemel is 'n plek op aarde. Die Hemel is 'n plek in die lig. Die Hemel is die see. Die Hemel is 'n berg. Hoekom dan nie 'n plek in jou kop nie? Ons het almal seker maar ons eie idee oor die hemel. Myne is 'n Saterdagoggend op die voorstoep. In die agtergrond is daar 'n klein geraas van musiek, langs my die soet klank van geslelskap. Dit is waar ek nou is, my ou klein hemel, Die Bloute.

Halleluja.
*Hierdie opstel bevat absoluut niks aangaande haaie nie.